Andronikos II Palaiologos

Andronikos II Palaiologos
Keiser van die Bisantynse Ryk
’n Skildery van Andronikos II.
’n Skildery van Andronikos II.
Bewind 11 Desember 1282 - 24 Mei 1328
Voorganger Michael VIII Palaiologos
Opvolger Andronikos III Palaiologos
Gebore 25 Maart 1259
Oorlede 13 Februarie 1332 (op 72)
Dinastie Palaiologos
Vrou Anna van Hongarye
Yolande van Montferrat
Vader Michael VIII Palaiologos
Moeder Theodora Palaiologina

Andronikos II Palaiologos of Paleologus (Grieks: Ἀνδρόνικος Β′ Παλαιολόγος; 25 Maart 1259 - 13 Februarie 1332) was van 1282 tot 1328 keiser van die Bisantynse Ryk.

Hy is gebore as Andronikos Doukas Angelos Komnenos Palaiologos en was die oudste oorlewende seun van Michael VIII, die stigter van die Palaiologos-dinastie wat tot met die val van Konstantinopel in 1453 oor die Bisantynse Ryk regeer het.

Bewind

Andronikos II het keiser geword ná sy pa se dood in 1261. Tydens sy bewind het die Bisantynse Ryk begin agteruitgaan. Die Turke het die grootste deel van Wes-Anatolië verower en Andronikos het ook ekonomiese probleme gehad. Tydens sy bewind het die waarde van die Bisantynse hyperpyron skerp gedaal en die staatskas het minder as ’n sewende van die bedrag van voorheen ingesamel. Hy het die belasting verhoog, belastingvrystellings teruggetrek en die vloot se skepe verminder. Die ryk was dus al hoe afhankliker van die mededingende republieke van Venesië en Genua.

Die Turke het Klein-Asië al hoe dieper binnegedring en teen die einde van Andronikos II se bewind was ’n groot deel van Bithinië in die hande van die Turke van Osman I en sy seun en opvolger, Orhan.[1] Ook ander dele van die ryk is verower, onder meer deur Bulgarye.

Die losbandige gedrag van Andronikos III Palaiologos, die seun van Michael IX, Andronikos se oudste seun en medekeiser, het tot ’n skeuring in die familie gelei en ná Michael se dood in 1320 het Andronikos II sy kleinseun onterf. Dit het ’n burgeroorlog tot gevolg gehad wat met tussenposes tot in 1328 geduur het. In dié jaar het Andronikos III Konstantinopel oorgeneem en Andronikos II moes noodgedwonge abdikeer.[2] Hy is in 1332 as ’n monnik in Konstantinopel dood.

Verwysings

  1. "Andronicus II." . Encyclopædia Britannica. 2 (9de uitg.). 1878. p. 23.
  2. Chisholm, Hugh, red. (1911). "Andronicus II" . Encyclopædia Britannica. 1 (11de uitg.). Cambridge University Press. p. 976.

Bykomende bronne