Andronikos III Palaiologos

Andronikos III Palaiologos
Keiser van die Bisantynse Ryk
’n Miniatuurskildery van Andronikos III uit ’n 14de-eeuse manuskrip.
’n Miniatuurskildery van Andronikos III uit ’n 14de-eeuse manuskrip.
Bewind 24 Mei 1328 - 15 Junie 1341
Voorganger Andronikos II Palaiologos
Opvolger Johannes V Palaiologos
Gebore 25 Maart 1297
Oorlede 15 Junie 1341 (op 44)
Dinastie Palaiologos
Vrou Irene van Brunswyk
Anna van Savoje
Vader Michael IX Palaiologos
Moeder Rita van Armenië

Andronikos III Palaiologos of Paleologus (Grieks: Ἀνδρόνικος Γ′ Παλαιολόγος; 25 Maart 1297 - 15 Junie 1341) was van 1328 tot 1341 keiser van die Bisantynse Ryk.[1] Hy was die seun van Michael IX Palaiologos, die oudste seun en medekeiser van Andronikos II Palaiologos.

Bewind

Andronikos III se losbandige gedrag het tot ’n skeuring in die familie gelei en ná Michael IX se dood in 1320 het Andronikos II sy kleinseun onterf. Dit het ’n burgeroorlog tot gevolg gehad wat met tussenposes tot in 1328 geduur het. In dié jaar het Andronikos III Konstantinopel oorgeneem en Andronikos II moes noodgedwonge abdikeer.[2] Hy is in 1332 as ’n monnik in Konstantinopel dood.

Tydens Andronikus III se bewind is die laaste vergeefse pogings aangewend om die Ottomaanse Turke in Bithinië terug te hou. ’n Bondgenootskap met Bulgarye het hulle nie veel gehelp nie en eindelik het die Turke Nicea ingeneem. Andronikos III wou nog dele van Anatolië behou en het eindelik heffings aan die Turke betaal. Later het die heffings sultan Orhan nie meer tevrede gestel nie en Bisantium het sy greep op Anatolië algaande verloor.

Andronikos III het die verswakte vloot, wat teen 1332 uit net 10 skepe bestaan het, probeer reorganiseer en versterk. Hy kon egter nie eens 100 handelskepe bymekaarkry nie.

Wat sy binnelandse beleid betref, het Johannes Kantakouzenos, die bevelvoerder van die leër en later keiser, die administrasie beheer terwyl Andronikos III hom toegespits het op jag en oorlogvoering. Sy vroeë dood het ’n magsvakuum gelaat wat gelei het tot ’n burgeroorlog tussen die keiserinmoeder, Anna van Savoje, en sy beste vriend en grootste ondersteuner, Johannes Kantakouzenos.

Verwysings

  1. PLP, 21437. Παλαιολόγος, Ἀνδρόνικος III. Δούκας Ἄγγελος Κομνηνός.
  2. Chisholm, Hugh, red. (1911). "Andronicus II" . Encyclopædia Britannica. 1 (11de uitg.). Cambridge University Press. p. 976.

Bykomende bronne