Huis van Grimaldi

Huis van Monaco
Wapen van die Huis van Grimaldi
Land Monaco
Stigter Grimaldo Canella
Gestig in 1160
Heerser Albert II
Titels (Regerende) Prins van Monaco, Konsul van Genua
Voorganger Rainier III
Vermoedelike opvolger Prinses Caroline

Die Huis van Grimaldi is betrokke by die geskiedenis van die Prinsdom van Monaco en die Republiek van Genua.

Geskiedenis

Die Grimaldi-familie stam af van Grimaldo Canella, ’n Genuese staatsman in die tyd van die eerste Kruistogte. Hy was die seun van Otto Canella, ’n Konsul van Genua in 1133, en hy het op sy beurt in 1160, 1170 en weer in 1184 konsul geword. Sy talle kleinseuns en hul kinders het see-ekspedisies gelei oral om die Mediterreense See, die Swartsee en die Noordsee, en hulle het gou een van die magtigste families in Genua geword.

Die Grimaldi's was bang dat ’n mededingende familie Genua sou oorneem en was in verskeie gevegte betrokke om die mag te behou. Van 1299 af het hulle verskeie bondgenootskappe aangegaan. Die kasteel van Monaco was ideaal geleë om politieke en militêre aanvalle teen Genua te loods. In 1395 het die Grimaldi's die onrus in Genua gebruik om Monaco oor te neem, wat hulle toe as ’n kondominium, of gemeeskaplike soewereiniteit, regeer het. Dit is die oorsprong van die huidige prinsdom.

Tot 2002 het ’n verdrag tussen Monaco en Frankryk bepaal dat as die Grimaldi-familie nie ’n manlike heerser voortbring nie, die soewereiniteit van die gebied na Frankryk sal teruggaan. Die 2002-ooreenkoms maak egter voorsiening vir ’n regentskap en voortgesette Monegaskiese soewereiniteit in so ’n geval.

Die Grimaldi-familie

Die Paleis van Monaco.

Die huidige familie stam almal af van Louis II van Monaco en het wêreldwyd bekend geraak danksy Rainier III se huwelik met die Amerikaanse aktrise Grace Kelly.

Monaco is een van net drie state in Europa waar die monarg steeds ’n aktiewe rol in die alledaagse politiek speel. (Die ander twee is Liechtenstein en die Vatikaanstad. Die Monegaskiese prins oefen sy mag uit in ooreenstemming met die grondwet en wette. Hy verteenwoordig die land in alle buitelandse betrekkinge en enige verandering aan die grondwet moet deur hom én die Nasionale Raad goedgekeur word. Wetgewende gesag is verdeel tussen die prins en die Nasionale Raad en die uitvoerende gesag is in die prins se hande.

Die prins het ook volle gesag in die howe, wat in sy naam uitspraak gee. Albert II verleen ook amnestie en Monegaskiese burgerskap, en gee ordes, titels en ander range van eer.

Lys van Grimaldi's

Van die belangrikste lede van die Grimaldi-familie:

  • Grimaldo Canella, Konsul van Genua, stigter van die Huis van Grimaldi.
  • Hubert Grimaldi, eerste persoon met die vadersnaam Grimaldi.
  • Rainier I, lord van Cagnes, admiraal van Frankryk
  • Augustin, aartsbiskop
  • Nicolas Grimaldi, Prins van Salerno
  • Louis I, prins van Monaco, ambassadeur van Lodewyk IV
  • Honoré II, Prins van Monaco (1597–1662)
  • Jacques François Leonor Grimaldi, Prins van Monaco
  • Honoré III, Prins van Monaco (1720–1795)
  • Honoré IV, Prins van Monaco (1758–1819)
  • Honoré V, Prins van Monaco (1778–1841)
  • Florestan I, Prins van Monaco (1785–1856)
  • Charles III, Prins van Monaco (1818–1889)
  • Albert I, Prins van Monaco (Albert Honoré Charles Grimaldi)
  • Louis II, Prins van Monaco (Louis Honoré Charles Antoine Grimaldi)
  • Rainier III, Prins van Monaco (Rainier Louis Henri Maxence Bertrand Grimaldi)
  • Albert II, Prins van Monaco, huidige heerser en oudste seun van prins Rainier III en sy vrou, prinses Grace.
  • Caroline, Prinses van Hannover, oudste suster van prins Albert en sy vermoedelike opvolger.
  • Prinses Stéphanie van Monaco, jongste suster van prins Albert.
  • Prinses Antoinette, Barones van Massy, oudste suster van prins Rainier.
  • Andrea Casiraghi, oudste seun van prinses Caroline en haar tweede man, Stefano Casiraghi.
  • Pierre Casiraghi, jongste seun van prinses Caroline en haar tweede man, Stefano Casiraghi.
  • Charlotte Casiraghi, dogter van prinses Caroline en haar tweede man, Stefano Casiraghi.
  • Prinses Alexandra van Hannover, dogter van prinses Caroline en haar derde man, Ernst August V, Prins van Hannover.
  • Ernst August V, Prins van Hannover, derde en huidige man van prinses Caroline.
  • Louis Ducruet, seun van prinses Stéphanie en Daniel Ducruet.
  • Pauline Ducruet, dogter van prinses Stéphanie en Daniel Ducruet.

Verdere leesstof

  • Edwards, Anne. The Grimaldis of Monaco. William Morrow, 1992.
  • Maclaga, Michael and Louda, Jiri. LINES OF SUCCESSION; Heraldry of the Royal Families of Europe. MacDonald & Co., 1981; Little, Brown & Co., 1999; Time Warner Books, UK, 2002 ISBN 0-7607-3287-6

Eksterne skakels

Verwysings

Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikels en:House of Grimaldi en en:Monegasque Princely Family