Iers-Gaelies
Iers-Gaelies Gaeilge na hÉireann | ||
---|---|---|
Uitspraak: | [ˈɡeːlʲɟə] | |
Gepraat in: | Ierland (538 283) Noord-Ierland (165 000) Verenigde Koninkryk (95 000) Verenigde State (25 000) | |
Gebied: | Wes-Europa | |
Totale sprekers: | 355 000 moedertaal- of ander sprekers wat die taal vlot kan praat(1983)[1] 538 283 gereelde sprekers (2006) 1 860 000 met kennis van die taal (2006) | |
Rang: | 193 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Kelties Eiland-kelties Goideliese Iers-Gaelies | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet (Ierse variant) | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Ierland Europese Unie Permanente Noord-Amerikaanse Gaeltacht | |
Gereguleer deur: | Foras na Gaeilge ("Ierse Instituut") | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | ga | |
ISO 639-2: | gle | |
ISO 639-3: | gle | |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Die Ierse taal (Iers: Gaeilge, [ˈɡeːlʲɟə], of Gaeilge na hÉireann, "Iers-Gaelies") vorm saam met Skots-Gaelies en Manx-Gaelies, die taal van die Eiland Man, die Gaeliese of Goideliese groep van die Keltiese tale. Die woord "Goidelies" is afgelei van die Oud-Ierse goídel "Ier".
Iers is die oudste taal van die Goideliese groep en bestaan reeds in die vroeë Middeleeue as 'n literêre taal, terwyl Skots en Manx voor die sewentiende eeu nie as selfstandige skryftale beskou word nie.
Iers is vandag danksy sy historiese rol as nasionale taal die eerste ampstaal (an phríomhtheanga oifigiúil) van die Republiek Ierland, en sowat 1,6 miljoen van die 4,1 miljoen burgers kan tans Iers praat. Daar is ook enkele duisend Ierssprekers in Noord-Ierland, die Verenigde State, Kanada en Australië. Volgens 'n besluit, wat deur die Europese Ministers van Buitelandse Sake op 13 Junie 2005 geneem is, het Iers op 1 Januarie 2007 ook een van die amptelike tale van die Europese Unie geword.
Behalwe vir klein gebiede in die weste van die Ierse eiland (die sogenaamde Gaeltachtaí) – veral in Waterford, Wes-Kerry, Wes-Cork, Connemara, Mayo en Donegal (Ulster, Noord-Ierland) – word Iers nie meer as moedertaal gepraat nie en is grootliks deur Engels verdring. Iers is die daaglikse omgangstaal vir sowat 120 000 mense. 'n Bykomende 165 000 sprekers in Noord-Ierland en 25 000 in die Verenigde State besig Iers óf as hulle huistaal óf het 'n behoorlike kennis daarvan.
Taalgeskiedenis
Die oudste bekende inskripsies in die sogenaamde Ogham-skrif dateer uit die 4de eeu n.C., die tydperk van die argaïese Ierse taal. Tydens hierdie periode het drie belangrike verskynsels vir die eerste keer opgetree: die apokopee (woordverkorting), die sinkopee (die weglating van 'n beklemtoonde klinker binne 'n woord) en die palatalisering (die aanpassing van 'n medeklinker aan die opvolgende klinker).
Tussen 600 en 900 is in Ierland die Oud-Ierse vorm van die taal gepraat, wat in 'n hoë mate as eenheidstaal dwarsoor die eiland gestandaardiseer is en deur 'n hoogs ontwikkelde fleksie gekenmerk word. Ierse en Skotse monnike, wat as sendelinge vir 'n tyd lank op die Europese vasteland gebly het, het 'n aantal Latynse leenwoorde saamgebring.
Die Wiking-aanvalle vanaf die einde van die 8ste eeu en die stigting van Skandinawiese nedersettings in die kusgebiede (soos Dublin) het die oorgang na die Middelierse taal (900 tot 1200) begin inlui. Met die maatskaplike en politieke omwentelings het die taal sy eenvormigheid kwytgeraak. 'n Aantal afwykende spellings en grammatikale veranderings soos die verlies van die neutrum (onsydige geslag) en die vereenvoudiging van die fleksie word aan die onluste van die tyd toegeskryf.
In elk geval was daar 'n noemenswaardige getal tweetaliges voordat Skandinawiese setlaars omstreeks 1200 as volledig geassimileer beskou kan word. Taalkontak tussen Oud-Noors en Iers word in 'n aantal Ierse terme weerspieël wat uit Noors ontleen is en hoofsaaklik met oorlogsvoering, handel en skeepvaart verbind word:
Iers | Oud-Noors | Afrikaans |
---|---|---|
targa | targa | wapenskild |
garrda | garðr | omheining, tuin |
stiúir | styri | roer, stuur |
trosc | þorskr | kabeljou |
margad | markaðr | mark |
beóir | bjórr | bier |
Teen die einde van die 11de eeu het Anglo-Noormanne hulle in Skotland gevestig. Die Anglo-Normandiese inval in Ierland in 1169 was die beginpunt van 'n periode van meertaligheid in Ierland, maar Anglo-Normandiese setlaars is nogtans geassimileer en het geleidelik begin om Iers te praat. In die vroeë 16de eeu was die meerderheid van die Ierse bevolking weer Ierssprekend. Soos uit 'n aantal leenwoorde blyk, het Anglo-Normandiërs op taalkundige gebied spore in Ierland gelaat – enkele voorbeelde in 'n lang lys is bardas (korporasie), cúirt (hof; Engels: court), giúistís (geregtigheid; Engels: justice) en garsún (seun; vergelyk die Franse garçon).[3]
Die tydperk tussen 1200 en 1600 word as die bloeitydperk van Klassieke Moderne Iers beskou – 'n beskaafde Ierse standaardskryftaal wat in lekeskole ontwikkel is en deur geleerdes en digters in sowel Ierland asook Skotland vir hul werke gebruik is. Na die gesproke Ierse omgangstaal in dié periode word verwys as Vroeë Moderne Iers, al het die volkstaal in hierdie vier eeue grootskaalse veranderinge ondergaan.
Die status van Iers is deur die politieke werklikheid bepaal – al was dit die meerderheidstaal vir die destydse Ierse bevolking, het Engels die rol van administratiewe en regstaal vervul. In dié twee sfere sou Iers nooit weer 'n oorheersende rol speel nie. Die magselites in groot stedelike sentra soos Dublin was steeds Engelssprekend.[4]
Die verdrywing van die laaste Iers-Gaeliese adellikes in die 17de eeu het aan die beginpunt van die Nieu-Ierse taalontwikkeling gestaan. Met die industrialisering en verstedeliking vanaf die laat 18de eeu het groot dele van die oorspronklik Ierstalige plattelandse bevolking verengels, en tussen 1835 en 1891 het die aantal Ierssprekendes van sowat vier miljoen tot slegs 680 000 gedaal.
Vandag het sowat 1,2 miljoen mense kennis van die Ierse taal, en Iers is 'n verpligte skoolvak vir leerlinge, alhoewel dit buite die Gaeltachtaí nouliks as omgangstaal gepraat word. Straatborde en wetgewing is tweetalig. Daar is Ierstalige koerante, tydskrifte, radioprogramme en 'n televisieprogram. Die kulturele lewe verseker dat die betekenis van die Ierse taal steeds groter is as die aantal moedertaalsprekers sou laat vermoed.
Dialekte
Die Ierse taal word in twee groot dialekgroepe verdeel:
Suidelike groep:
- East Munster (in die omgewing van Waterford),
- West Munster (in die omgewing van Cork en Kerry).
Noordelike groep:
- Connacht (in die omgewing van Galway en Mayo),
- Ulster (in Donegal).
Hierdie hoofdialekte kan verder verdeel word in plaaslike variante. Almal vorm 'n kontinuüm sodat sprekers van dialekte in Noord-Mayo maklik met dialeksprekers in die aangrensende Suid-Donegal kan kommunikeer. Die dialek van West Munster word in fonetiese opsig as die maklikste beskou wat deur vreemdetaalsprekers aangeleer kan word. Dit is daarnaas ten nouste verwant met die taal wat 17de en 18de eeuse digters in Munster in hul werke gebruik het. Hul digkuns word as die laaste oorblyfsel van die ou Iers-Gaeliese literêre tradisie beskou.
So was Munster-Iers (Gaeilge na Mumhan) vroeër die gewildste variant van Iers waarop ook die meeste skool- en leerboeke gesteun het. Kenmerkend is die afwykende klemtoon wat hier soms nie op die eerste lettergreep val nie, maar op die sillabe met 'n lang klinker – iets wat aan Normandies-Franse invloed toegeskryf word aangesien Normandiese setlaars hulle in die middeleeue veral in die Suid-Ierse Munster gevestig het.
Twee faktore – die groot aantal moedertaalsprekers en die ryk kulturele lewe van Connemara – het daartoe bygedra dat Connacht-Iers (Gaeilge Connacht) tans die gunsteling-dialek van leerders is. Connacht-Iers, soos dit in die Mayo-Gaeltacht in en rondom die gelyknamige nedersetting gebesig word, toon sekere invloede van Donegal- of Ulster-Iers (Gaeilge Uladh) aangesien baie sprekers van die dialek hulle hier vroeër gevestig het, maar verkeer in 'n swakker posisie weens die kleiner aantal moedertaalsprekers.
Ulster-Iers word hoofsaaklik in Noord-Ierland aangeleer; historiese moedertaalgebiede, waar die variant oor die eeue heen gebesig is, is egter beperk tot Donegal, vandaar die alternatiewe benaming Donegal-Iers. Ulster-Iers toon invloede van Skots-Gaelies.
As moeder- of eerste taal word Iers slegs in dialekvorm gepraat, en daar bestaan geen gesproke Standaardiers wat natuurlik ontwikkel het nie. Die Ierse staat het egter die inisiatief geneem om 'n standaardvorm van Iers-Gaelies (An Caighdeán Oifigiúil) te skep wat sedert 1948 as eerste ampstaal dien. Dit is ook die variant wat deur leerders en ander persone aangeleer en gebesig word, dikwels vermeng met 'n dialek wat hulle daarnaas aangeleer het. Vir Standaardiers is 'n verskeidenheid neologismes geskep wat nie in die historiese dialekte bestaan nie en waarna moedertaalsprekers dus as "Boek-Iers" verwys. Moedertaal-/dialeksprekers sal hulle dikwels liefs vermy en eerder die Engelse term gebruik. Talle tegniese, ekonomiese en ander vakterme is ontleen uit Engels, soos aerfhórsa (van air force) "lugmag".
'n Ander uitdaging vir leerders is historiese spellings wat glad nie met die huidige uitspraak ooreenstem nie. In gevalle, waar uiteenlopende maniere van uitspraak in Ierse dialekte gevestig is, kon daar dikwels geen konsensus oor 'n gemeenskaplike spelling bereik word nie. Die spelling van leabhar (boek; vergelyk die Latynse liber) dui daarop dat dit oorspronklik uitgespreek is soos *lewwer. Die huidige uitspraak in Ierse dialekte verskil merkbaar hiervan: *ljaur in Munster en Connacht (en in Standaardiers), maar *ljoor in Ulster.
Naas die tradisionele Gaeltachtaí is daar sedert die 1950's nog twee baie klein Ierse taaleilande, Rath Cairne en Baile Ghib, in die graafskap Meath noordwes van Dublin wat as 'n soort taalkundige toetsgebied dien. Hier is Ierssprekers uit Connemara met finansiële steun van die regering gevestig om die lewensvatbaarheid van Ierse taaleilande naby 'n groter stad soos Dublin te toets.
Enkele kenmerke
Lenisie en eklips (aanvangsmutasie)
- Lenisie
In Iers (en ander Keltiese tale) word die aanvang van 'n woord dikwels deur die voorafgaande woord verander. Na een van hierdie mutasies word verwys as lenisie, in Iers séimhiú genoem; na die ander as eklips (urú).
Die volgende medeklinkers kan geleniteer word:
b → bh
c → ch
d → dh
f → fh
g → gh
m → mh
p → ph
s → sh
t → th
Die vier oorblywende medeklinkers – h, l, n, r – word nie geleniteer nie.
- Eklips
Sowel klinkers as medeklinkers word blootgestel aan die sogenaamde eklips. Die volgende medeklinkers word geëkspliseer:
b → mb
c → gc
d → nd
f → bhf
g → ng
p → bp
t → dt
Die ses oorblywende medeklinkers (h, l, m, n, r, s) word nie geëkspliseer nie.
Daarnaas kan 'n t voor 'n klinker of 'n s geplaas word; en 'n n of h voor klinkers. Spellingreëls vereis 'n koppelteken tussen die t en die klinker; en tussen die n en die klinker. Die koppelteken word weggelaat mits die klinker 'n hoofletter is; mits die eerste letter 'n s is; en tussen 'n h en 'n klinker.
Woordvolgorde
Die Ierse woordvolgorde is werkwoord – subjek – objek [- ander]:
Tá sí ina hailtire. Sy is 'n argitek.
Alfabet en spelling
Tans word die Latynse alfabet (Cló Rómhánach) as die algemene Ierse skryfstelsel gebruik. Maar nog tot die middel van die 20ste eeu is talle boeke en dokumente in die tradisionele Ierse unsiaalskrif gedruk wat oorspronklik uit die Latynse kapitale-alfabet ontwikkel is. Dit word tans nog vir dekoratiewe doeleindes gebruik.
Die Ierse unsiaalskrif was vanaf die 7de eeu n.C. in gebruik en is later aangepas om as drukskrif te dien. Kenmerkend is dat slegs vir r en s besondere hoofletters ontwikkel is. Lenisies (sogenaamde aanvangsmutasies van medeklinkers) word deur 'n diakritiese punt (buailte) aangedui, terwyl in die Latynse spelling 'n h as postposisie gebruik word. Die historiese name van unsiaalletters is van bome afgelei, maar word tans nie meer gebruik nie.
Nog ouer as die unsiaal- is die sogenaamde Ogham-skrif wat waarskynlik tussen die 3de en 6de eeu n.C. in gebruik was. Slegs inskripsies op stene het bewaar gebly, maar navorsers neem aan dat tekste ook in hout ingegraveer is.
Moderne Iers het vyf kort (a, e, i, o, u) en vyf lang klinkers (á, é, í, ó, ú). Daar is dertien medeklinkers (b, c, d, f, g, h, l, m, n, p, r, s, t), terwyl alle ander Latynse konsonante slegs in vreemde en ontleende woorde voorkom (soos byvoorbeeld in jíp "jeep"; x-ghathú "x-strale"; veain, afgelei van Engels van, "vragwa, lorrie"; vóta, afgelei van Engels vote, "stem").
Die letter h, wat selfstandig slegs in vreemde of leenwoorde (soos byvoorbeeld hata "hoed", van Engels hat; halla "saal", van Engels hall) voorkom, vervul 'n besondere funksie in Ierse spelling. Dit kom in bepaalde sinsboukonstruksies voor klinkers voor of word gebruik om die lenisie of aanvangsmutasie aan te dui.
In die spellingshervorming van 1948 is voorsiening vir 'n aantal aanpassings gemaak waarvolgens stom medeklinkers weggelaat word en 'n gemeenskaplike skryfwyse vir alle dialekte ingevoer is.
Ou spelling | Nuwe spelling | Uitspraak (IFA) | Afrikaans |
---|---|---|---|
biadh | bia | biɘ | voedsel, kos |
Gaedhilge | Gaeilge | ɡeːliŋ | die Ierse taal |
Nodlaig | Nollaig | noliɡ | Kersfees |
Klemtoon
Die hoofklem val in Iers gewoonlik op die eerste lettergreep, en dit is só sterk dat alle volgende onbeklemtoonde lettergrepe nog slegs as 'n schwa uitgespreek word. Daar is egter uitsonderings in die dialek van West Munster (ook Munster-Iers genoem en hoofsaaklik gebesig in Cork, Kerry en Waterford):
- Indien die tweede lettergreep lank uitgespreek word (soos deur 'n diakritiese teken aangedui word), dra dit ook die hoofklem, soos in cailín, garsún; met uitsondering van 'n aantal werkwoorduitgange.
- Indien die eerste twee lettergrepe kort en die derde lank uitgespreek word, val die hoofklem op die derde lettergreep, soos in amadán.
- In gevalle waar die tweede lettergreep die -ach-lettergroep bevat en geen lettergreep lank uitgespreek word nie, dra die tweede lettergreep die hoofklem, soos in coileàch, beannàcht (die diakritiese teken word hier net ter verduideliking van die hoofklem gebruik en kom nie in geskrewe Iers voor nie).
Woordelys Afrikaans-Iers
Afrikaans | Iers-Gaelies |
---|---|
melk | bainne |
boek | leabhar |
bottel | buidéal |
deur | doras |
dorp | sráidbhaile |
Dublin | Baile Átha Cliath |
Afrikaans | Afracáinis |
Engels (taal) | Béarla |
geld | airgead |
Ierland | Éire |
Suid-Afrika | an Afraic Theas |
kat | cat |
melk | bainne |
seun | garsún |
skip | long |
son | grian |
stad | cathair |
venster | fuinneog |
vis | iasc |
water | uisce |
woord | focal |
een | a haon |
twee | a dó |
drie | a trí |
vier | a ceathair |
vyf | a cúig |
ses | a sé |
sewe | a seacht |
agt | a hocht |
nege | a naoi |
tien | a deich |
Gaelies in popkultuur
Die bekroonde solosangeres, Enya, 'n Ierssprekende boorling van Gaoth Dobhair (Gweedore) in die Donegal-Gaeltacht-gebied, sing baie van haar liedere in die Ulster-dialek van Iers-Gaelies. Daarnaas het ook die Ierse musiekgroep Clannad internasionale bekendheid verwerf met liedjies in Iers.
Sien ook
Verwysings
- ↑ Ethnologue, Gaelic, Irish: a language of Ireland
- ↑ Aidan Doyle: A History of the Irish Language. From the Norman Invasion to Independence. Oxford: Oxford University Press 2015, bl. 12
- ↑ Údarás na Gaeltachta: Background on the Irish Language. Besoek op 22 September 2016
- ↑ Aidan Doyle: A History of the Irish Language. From the Norman Invasion to Independence. Oxford: Oxford University Press 2015, bl. 10
Eksterne skakels
- (en) "Irish language". Encyclopædia Britannica. Besoek op 7 April 2020.
- Gaeilge ar an ghréasán Ierse aanlynhulpbronne Geargiveer 19 Julie 2005 op Wayback Machine
- Foras na Gaeilge Geargiveer 20 Oktober 2008 op Wayback Machine
- Daltaí na Gaeilge – Ierse Taalinligting en Hulpbronne
- ethnologue verslag oor Iers-Gaelies
- Iers – Engels Woordeboek
- Gaeliese Woordeboeke
- Braesicke's Gramadach na Gaeilge (Engelse vertaling)
- Kids.net.au Artikel Geargiveer 14 Mei 2005 op Wayback Machine
Indo-Europese tale: Kentum-tale: Kelties | ||
---|---|---|
Eiland-Keltiese tale | ||
Goidelies: | Iers-Gaelies | Skots-Gaelies (Skotland • Kanada) | Manx-Gaelies | Galweegse-Gaelies † | |
Britonies: | Wallies | Kornies | Bretons | Cumbries † | Piekties † | |
Vasteland-Keltiese tale | ||
Vasteland-Keltiese tale: | Gallies †: | Leponties † | Galaties † Keltiberies † | |
Gemengde Tale | ||
Gemengde Tale: | Shelta | Bungee † | |
† Uitgestorwe |