OSIRIS-REx

'n Kunstenaar se voorstelling van die OSIRIS-REx-ruimtetuig.

OSIRIS-REx was 'n ruimtetuig van Nasa waarmee 'n asteroïed bestudeer en monsters van die terrein na die Aarde teruggebring is. Die asteroïed wat besoek is, was 101955 Benoe, 'n koolstofryke nabyaardevoorwerp.[1][2]

Die materiaal, wat in September 2023 teruggebring is, sal wetenskaplikes na verwagting meer leer oor die vorming en evolusie van die Sonnestelsel, sy laaste stappe van planeetvorming en die bron van organiese verbindings wat tot die ontstaan van lewe op Aarde gelei het.[3] Ná die sending sal die tuig verby die asteroïed 99942 Apofis vlieg. Dit sal dan bekend staan as OSIRIS-APEX.[4]

OSIRIS-REx is op 8 September 2016 gelanseer, het op 22 September 2017 verby die Aarde gevlieg en het op 3 Desember 2018 by Benoe aangekom.[5] Die volgende twee jaar het dit die oppervlak ontleed om 'n geskikte terrein te kry waar monsters geneem kon word. Op 20 Oktober 2020 het OSIRIS-REx kortliks op Benoe geland en daarin geslaag om monsters te neem.[6][7] Die monsters is op 24 September 2023 na die Aarde teruggebring,[8] Dit het daarna sy vlug na Apofis begin, waar dit in April 2029 sal aankom.

Benoe is as die teiken van die sending gekies omdat dit 'n "tydkapsule" van die geboorte van die Sonnestelsel is.[9] Dit het 'n baie donker oppervlak en word geklassifiseer as 'n B-tipe asteroïed, 'n subtipe van die koolstofryke C-tipe asteroïede. Sulke asteroïede word as primitief beskou en het min veranderings ondergaan sedert hulle ontstaan. Benoe is in besonder gekies vanweë die beskikbaarheid van ongerepte koolstofryke materiaal, 'n sleutelelement in organiese molekules wat noodsaaklik is vir lewe. Dit is ook verteenwoordigend van materie wat ontstaan het voor die vorming van die Aarde. Organiese molekules, soos aminosure, is voorheen gevind in monsters van meteoriete en komete, wat daarop dui dat sommige bestanddele wat nodig is vir lewe, natuurlik in die buitenste ruim geskep word.[10]

OSIRIS-REx was die eerste Amerikaanse ruimtetuig wat monsters van 'n asteroïed teruggebring het. Vorige monsters van asteroïede sluit in dié van die Japannese tuie Hayabusa, wat 25143 Itokawa in 2010 besoek het, en Hayabusa2, wat 162173 Ryugu in Junie 2018 besoek het.

Sending

Die algemene bestuur, ingenieurswerk en navigasie vir die OSIRIS-sendings word deur Nasa se Goddard-ruimtevlugsentrum verskaf, terwyl die Universiteit van Arizona se Maan- en Planetêre Laboratorium die wetenskapoperasies behartig. Lockheed Martin-ruimtestelsels het die ruimtetuig gebou en hanteer sendingsoperasies.[11] Die wetenskapspan sluit lede in van die VSA, Kanada, Frankryk, Duitsland, Brittanje en Italië.[12]

Nadat die ruimtetuig meer as twee jaar lank gereis het, het dit in Desember 2018 by Benoe aangekom[13] en begin om vir 505 dae die oppervlak op 'n afstand van sowat 5 km te karteer.[10] Die resultate van die kartering is deur die sendingspan gebruik om die terrein te kies waar monsters van minstens 60 g materiaal van die oppervlak geneem sou word.[14] 'n Nabynadering is toe uitgevoer sodat 'n robotarm die monster kon neem.[15]

Ná die suksesvolle neem van die monsters (121,6 g materiaal),[16] is die monsters in 'n kapsule na die Aarde teruggebring.[10]

Verwysings

  1. Nasa (31 March 2015). "NASA's OSIRIS-REx mission passes critical milestone". Persberig. http://www.nasa.gov/press/2015/march/nasa-s-osiris-rex-mission-passes-critical-milestone/. Besoek op 4 April 2015. 
  2. Chang, Kenneth (5 September 2016). "NASA aims at an asteroid holding clues to the Solar system's roots". The New York Times. Besoek op 6 September 2016.
  3. NASA. "OSIRIS-REx mission selected for concept development". Persberig. http://gsfctechnology.gsfc.nasa.gov/ORIRIS.htm. 
  4. "NASA gives green light for OSIRIS-REx spacecraft to visit another asteroid". University of Arizona News. 25 April 2022. Besoek op 25 April 2022.
  5. Chang, Kenneth (3 Desember 2018). "NASA's OSIRIS-REx Arrives at Asteroid Bennu After a Two-Year Journey". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 November 2020. Besoek op 3 Desember 2018.
  6. "NASA's OSIRIS-REx spacecraft collects significant amount of asteroid". Nasa. 23 Oktober 2020. Besoek op 26 April 2021.
  7. Chang, Kenneth (20 Oktober 2020). "Seeking Solar system's secrets, NASA's OSIRIS-REX mission touches Bennu asteroid". The New York Times. Besoek op 21 Oktober 2020. The spacecraft attempted to suck up rocks and dirt from the asteroid, which could aid humanity's ability to divert one that might slam into Earth.
  8. OSIRIS-REx factsheet (Report). Goddard SFC: Nasa. August 2011. https://ehpd.gsfc.nasa.gov/documents/552572main_OSIRIS_REx_Factsheet.pdf. 
  9. Wall, Mike (8 September 2016). "Next stop, Bennu! NASA launches bold asteroid-sampling mission". SPACE.com.
  10. 10,0 10,1 10,2 Brown, Dwayne C. (25 Mei 2011). "NASA to launch new science mission to asteroid in 2016". Nasa. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2012. Besoek op 18 September 2016.
  11. "OSIRIS-REx: Asteroid Sample Return Mission" (PDF) (Press Kit). Nasa. Augustus 2016. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 6 Julie 2017. Besoek op 18 September 2016.
  12. Kramer, Herbert J. "OSIRIS-REx". Earth observation portal directory. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 April 2015. Besoek op 20 April 2015.
  13. Nasa (9 January 2018). "NASA selects participating scientists for mission to asteroid Bennu". Persberig. https://www.nasa.gov/feature/goddard/2017/nasa-selects-participating-scientists-for-mission-to-asteroid-bennu. Besoek op 2 February 2018. 
  14. "NASA successfully launch OSIRIS-REx asteroid mission". borntoengineer.com. 9 September 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Julie 2018. Besoek op 9 September 2016.
  15. "UA gets US$1.2 million to aid in asteroid mission". Tucson Citizen. 26 Mei 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Oktober 2014. Besoek op 26 Mei 2011.
  16. "NASA Announces OSIRIS-REx Bulk Sample Mass – OSIRIS-REx Mission". blogs.nasa.gov (in Engels (VSA)). 15 Februarie 2024. Besoek op 15 Februarie 2024.

Skakels