Operasie Allied Force

Novi Sad nadat dit in 1999 deur NAVO gebombardeer is.

Operasie Allied Force was 'n NAVO militêre operasie teen die Federale Republiek Joego-Slawië tydens die Kosovo-oorlog. Dit het geduur van 23 Maart tot 10 Junie 1999 waartydens beide militêre en burgerlike teikens soos brûe en geboue gebombardeer is. Trosbomme is onder meer hiervoor gebruik. In totaal was daar tussen 500 en 570 burgerlike ongevalle.

Agtergrond

Na die verbrokkeling van die Sosialistiese Federale Republiek Joego-Slawië vroeër in die 1990's, het spanning in Kosovo tussen etniese Albanese en die Serwiese weermag van die oorblywende Federale Republiek Joego-Slawië vinnig toegeneem in 1998. Serwiese soldate het betogings gewelddadig opgebreek en burgerlikes toenemend geïntimideer. In reaksie hierop het die Kosovo Bevrydingsleër (UÇK) die militêre personeel met guerrilla-aksies aangeval.

Die Verenigde Nasies het met 'n formele oplossing vorendag gekom. Resolusie 1160 het die beëindiging van alle vyandelikhede en die begin van 'n politieke proses om geskille en eise tussen die partye te besleg, geëis. Dit is deur die betrokke partye geïgnoreer. Die Serwiërs en die UÇK het hul onderlinge stryd verskerp. Binne 'n paar maande is honderde burgerlikes dood en meer as 300 000 verplaas. Op 23 September 1998 het die VN resolusie 1199 aangeneem. Dit het 'n beroep op die partye gedoen om alle gevegte te staak en het gepaardgegaan met die aankondiging van moontlike sanksies. Daar was geen reaksie hierop nie.

Terselfdertyd het die Noord-Atlantiese Raad  ingestem om Operation Determined Force (ODF) te aktiveer om Europese standvastigheid in die afwesigheid van VN-besluitneming te demonstreer. ODF het beperkte lugaanvalle op militêre teikens toegelaat en ook moontlike uitbreiding van aksies toegelaat as daar geen reaksie was nie.

Daar is vinnig opgetree; vliegtuie van 12 NAVO-lande was rondom die Balkan gestasioneer en 14 lande het logistieke ondersteuning verskaf. Op 27 Oktober 1998 is meer as 300 vliegtuie by basisse in Frankryk, Duitsland, Griekeland, Italië en Engeland ontplooi, asook op vliegdekskepe in die Adriatiese See.

Onder hierdie druk het Serwië en Montenegro president Milosevic op 15 Oktober 1998 ingestem tot 'n wapenstilstand, onttrekking van die weermag uit Kosovo en die internasionale verifikasie hiervan. NAVO en die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OVSE) het daarna 'n ooreenkoms met Serwië en Montenegro onderteken.

Bronne