Séance

'n Séance wat in 1872 gelei word deur John Beattie in Bristol, Engeland.

'n Séance is 'n poging om met geeste te kommunikeer. Die woord kom uit die Frans vir "sitting", van die Oudfranse seoir, "om te sit". Die woord het in Frans 'n algemene betekenis: 'n Mens kan byvoorbeeld praat van une séance de cinéma (letterlik 'n "flieksessie"). In Afrikaans en ander tale soos Engels het die term egter spesifiek die betekenis van 'n byeenkoms van mense wat boodskappe van geeste wil kry[1], met of sonder 'n medium wat boodskappe van geeste oordra.

Fiktiewe gesprekke tussen oorledenes verskyn in Dialogues of the Dead deur George, die eerste baron Lyttelton, wat in 1760 in Engeland gepubliseer is.[2] Van die geeste wat daarin voorkom, is Pieter die Grote en Christina, koningin van Swede. Die gewildheid van séances het drasties toegeneem met die stigting van die godsdiens Spiritualisme in die middel 19de eeu. Een van die bekendse reeks séances wat in dié tyd uitgevoer is was dié van Mary Todd Lincoln, wat oor die dood van haar seun getreur het, in die Withuis wat deur haar man, president Abraham Lincoln, en ander vooraanstaande lede van die gemeenskap bygewoon is.[3]

Die verslag in 1887 van die Seybertkommissie het afbreuk gedoen aan die geloofbaarheid van Spiritualisme op die hoogtepunt van die gewildheid daarvan deur onthullings van bedrog en vertoon onder sekulêre séanceleiers te publiseer.[4] Moderne séances is steeds deel van die dienste van Spiritualiste en ander kerke vandag, waar groter klem geplaas word op spirituele waardes versus vertoon.[5][6]

Soorte séances

Die term "séance" word op 'n paar verskillende maniere gebruik en kan na een van verskillende aktiwiteite verwys, elk met sy eie norme en konvensies, sy eie gereedskap en sy eie reeks verwagte eindresultate.

Godsdienste séances

Black Hawk.

In Spiritualisme en ander soortgelyke godsdienste is dit gewoonlik deel van die diens om met persoonlikhede in die geesteswêreld te kommunikeer. Spiritualiste verkies die term "ontvangs van boodskappe". In dié sessies, wat gewoonlik in goed verligte kerke of buitenshuis plaasvind, sal 'n bevestigde prediker of bekwame medium boodskappe van geeste oordra aan lewendes in die gemeente.[5]

Soms staan die medium om boodskappe te ontvang;[7] in sommige kerke word die boodskapdiens voorafgegaan deur 'n "helingsdiens" wat die een of ander vorm van geloofsheling behels.[8]

Benewens kommunikasie met geeste van mense wat 'n persoonlike verhouding met die gemeentelede het, kan sommige kerke ook met geeste kommunikeer wat 'n spesifieke verhouding met die medium of 'n historiese verhouding met die kerk het. 'n Voorbeeld van laasgenoemde is die gees van die inheemse leier en vegter Black Hawk wat in die 19de eeu gelewe het. Black Hawk was 'n gees wat dikwels gekontak is deur die Spiritualistiese medium Leafy Anderson, en hy bly die sentrale fokus van spesiale dienste van die Afrika-Amerikaanse Spiritualistiese Kerke wat sy gestig het.[6]

Verwysings

  1. "Séance" (Internetwoordeboek). HAT. viva-afrikaans.org. Besoek op 28 September 2024.
  2. Lyttleton, George; Montegue, Eizabeth (1760). Dialogues with the Dead. London: W. Sandby.
  3. "Telegrams from the Dead". Public Broadcasting Service (PBS). 1994.
  4. Preliminary Report of the Commission Appointed by the University of Pennsylvania, The Seybert Commission, 1887. 1 April 2004.
  5. 5,0 5,1 Wicker, Christine (2003). Lily Dale: The True Story of the Town that Talks to the Dead. HarperCollins. ISBN 978-0060086664.
  6. 6,0 6,1 Barry, Jason (1995). The Spirit of Black Hawk: A Mystery of Africans and Indians. University Press of Mississippi. ISBN 0-87805-806-0.
  7. "Sunday Afternoon Message Service at Cassadaga Spiritualist Camp." Geargiveer 28 Oktober 2007 op Wayback Machine. Besoek op 25 November 2007.
  8. "Sunday Services are held at the Healing Temple on East Street in Lily Dale.". Besoek op 25 November 2007.

Skakels