Stephen Ray Vaughan (ook bekend as SRV; 3 Oktober1954 - 27 Augustus1990) was 'n Amerikaanse musikant en veral bekend as die kitaarspeler en gesig van die blues rock-trio Stevie Ray Vaughan and Double Trouble. Alhoewel sy hoofstroomloopbaan slegs sewe jaar beslaan het word hy beskou as een van die invloedrykste musici in die geskiedenis van bluesmusiek, en een van die grootste kitaarspelers ooit. Hy was die jonger broer van die kitaarspeler Jimmie Vaughan.
Hy is gebore en het grootgeword in Dallas, Texas. Op 7-jarige leeftyd het die jongeling die kitaar begin bespeel; hierin is hy aanvanklik geïnspireer deur sy broer Jimmie. In 1972 het hy die hoërskool verlaat en na Austin verhuis, waar hy 'n aanhang gekry het nadat hy 'n paar keer by plaaslike klubs opgetree het. Vaughan het kragte saamgesnoer met Tommy Shannon op die baskitaar en Chris Layton op tromme en saam met hulle in 1978 onder die naam Double Trouble opgetree. Die groep het hom gevestig in Austin se musiektoneel en spoedig een van die gewildste bands in Texas geword. Hulle het in Julie 1982 by die Montreux Jazz Festival opgetree, waar David Bowie Vaughan sien speel het. Bowie het hom gekontak vir 'n ateljee-opname in Desember waartydens hy blueskitaar gespeel het op die album Let's Dance (1983). Die platevervaardiger John Hammond het 'n demonstrasie-album gehoor wat Vaughan en Double Trouble opgeneem het, en voorspraak vir hulle gemaak by die platemaatskappy Epic Records. In Maart 1983 het hulle 'n kontrak met die maatskappy aangegaan. Binne maande het hulle hoofstroomsukses bereik met die krities bekroonde debuutalbum Texas Flood. Met 'n reeks suksesvolle netwerktelevisie-optredes en uitgebreide konserttoere het Vaughan die leidende figuur geword in die blues-herlewing van die 1980's.
Vaughan het die grootste deel van sy lewe met alkoholisme en dwelmverslawing gesukkel. Hy het ook gesukkel met die persoonlike en professionele druk van roem en sy huwelik met Lenora "Lenny" Bailey. Hy het rehabilitasie suksesvol voltooi en in November 1986 weer saam met Double Trouble begin toer. Sy vierde en laaste ateljee-album, In Step, het in 1989 nommer 33 in die Verenigde State se trefferlyste bereik; dit was een van Vaughan se mees krities en kommersieel suksesvolle albums en het sy enigste nommer-een-treffer, "Crossfire", ingesluit. Hy het een van die wêreld se gewildste blues-kunstenaars geword.
Op 27 Augustus 1990 sterf Vaughan en vier ander tydens 'n helikopterongeluk in East Troy, Wisconsin, nadat hulle saam met Double Trouble by die Alpine Valley Music Theatre opgetree het. 'n Ondersoek het tot die gevolgtrekking gekom dat die oorsaak van die ongeluk 'n vlieënierfout was. Vaughan se musiek het steeds kommersiële sukses behaal met verskeie postume vrystellings, en meer as 15 miljoen albums is in die Verenigde State alleen verkoop. Vaughan is in 2015 postuum opgeneem in die Rock and Roll Hall of Fame, saam met Double Trouble se Chris Layton, Tommy Shannon en Reese Wynans.
Familie en vroeë lewe
Vaughan se grootvader, Thomas Lee Vaughan, was getroud met Laura Belle LaRue. Hulle het verhuis na Rockwall County, Texas, waar hulle bywoners (in die Amerikaanse milieu bekend as "sharecroppers") was.[1][nb 1]
Stevie se vader, Jimmie Lee Vaughan, is op 6 September 1921 gebore.[3] Jimmie Vaughan, ook bekend as "Jim" of "Big Jim", het die skool op die ouderdom van sestien verlaat en ingeskryf in die Amerikaanse Vloot tydens die Tweede Wêreldoorlog. Na sy ontslag uit die weermag is hy op 13 Januarie 1950 met Martha Jean (née Cook; 1928–2009) getroud.[4] Hulle het 'n seun, Jimmie, in 1951 gehad. Stevie is op 3 Oktober 1954 in 'n Metodiste-hospitaal in Dallas gebore. "Big Jim" was werksaam in die asbesbedryf. Die gesin het gereeld verhuis en in ander state soos Arkansas, Louisiana, Mississippi en Oklahoma gewoon voordat hulle uiteindelik na Oak Cliff in Dallas verhuis het. Vaughan, 'n skaam en skugter seun, was diep geraak deur sy jeugervarings. Sy vader het drank misbruik en sy gesin en vriende dikwels met sy slegte humeur geterroriseer. In later jare het Vaughan onthou dat hy 'n slagoffer van sy vader se geweld was.[5] Sy vader is op 27 Augustus 1986 oorlede, presies vier jaar voor Vaughan self.[6]
Dood
Op Maandag, 27 Augustus 1990, om 12:50 vm. (Sentrale Standaardtyd [VSA]), het Vaughan en lede van Eric Clapton se toergevolg opgetree by die Alpine Valley Music Theatre by die Alpine Valley Resort in East Troy, Wisconsin. Hierna het hulle vetrtrek na die Midway Internasionale Lughawe in Chicago in 'n Bell 206B-helikopter, die mees algemene manier om die perseel binne te gaan en te verlaat, aangesien daar net een pad in en uit is, wat druk deur aanhangers gebruik word.[7] Die helikopter het kort na opstyging neergestort op 'n nabygeleë heuwel.[8] Vaughan en die vier ander aan boord—die vlieënier Jeff Brown, sy agent Bobby Brooks, sy lyfwag Nigel Browne en die toerbestuurder Colin Smythe—is dood.[9] Die helikopter was die eiendom van die Chicago-gebaseerde maatskappy Omniflight Helicopters. Die lykskouing het bevind dat al vyf mans oombliklik gesterf het.[10]
Die gevolglike ondersoek het bepaal dat die helikopter in mistige toestande opgestyg het met 'n sigbaarheid onder 2 myl (3,2 km), volgens 'n plaaslike voorspelling. Die verslag van die Nasionale Vervoerveiligheidsraad het gekonstateer: "Terwyl die derde helikopter vertrek het, het dit op 'n laer hoogte as die ander gebly. Die vlieënier het suidoos gedraai na stygende terrein. Daarna het die helikopter neergestort op heuwelagtige terrein omtrent drie-vyfdes van 'n myl van die opstygpunt af." Federal Aviation Administration (FAA) rekords het getoon dat Brown gekwalifiseer was om 'n vastevlerkvliegtuig te vlieg, maar nie 'n helikopter nie.[11] Toksikologietoetse wat op die slagoffers uitgevoer is het geen tekens opgelewer van dwelms of alkohol in hul stelsels nie.
Vaughan se begrafnisdiens is op 31 Augustus 1990 gehou by die Laurel Land-begraafplaas in Dallas, Texas. Sy kis is vinnig oorlaai met ruikers en blomme. ’n Geskatte 3 000 roubeklaers het by ’n stoet aangesluit wat deur ’n wit lykswa gelei is. Onder diegene teenwoordig by die openbare seremonie was Jeff Healey, Charlie Sexton, ZZ Top, Colin James, Stevie Wonder, Bonnie Raitt en Buddy Guy. Vaughan se grafskrif lees: "Thank you ... for all the love you passed our way."[12]
Musiekstyl
Video van Stevie Ray Vaughan by die Ardent-ateljee in Memphis in 1989.
Vaughan se musiek was gegrond op blues, rock en jazz. Hy is beïnvloed deur Johnny Winter,[13][14]Jimi Hendrix, Albert King, Lonnie Mack, B.B. King, Freddie King, Albert Collins, Johnny "Guitar" Watson, Buddy Guy, Howlin' Wolf, Otis Rush, Guitar Slim, Chuck Berry en Muddy Waters. Volgens die nagklub-eienaar Clifford Antone, wat Antone's in 1975 geopen het, het Vaughan in Julie 1977 met Albert King by Antone's "gejam"; Antone het hom amper "doodgeskrik", en gesê dat "dit die beste vertoning deur Albert of Stevie was wat hy nog ooit gesien het".[15] Terwyl Albert King 'n wesenlike invloed op Vaughan uitgeoefen het, was Jimi Hendrix Vaughan se grootste inspirasie. Vaughan het verklaar: "Ek is lief vir Hendrix om soveel verskillende redes. Hy was soveel meer as net 'n blues kitaarspeler—hy het verdomp goed gespeel op enige soort kitaar wat hy in die hande kon kry. Trouens, ek is nie seker of hy eers die kitaar gespeel het nie—hy het musiek gespeel."[16] Hy is ook beïnvloed deur jazz-kitaarspelers soos Django Reinhardt, Wes Montgomery, Kenny Burrell en George Benson.[17]
In 1987 het Vaughan Lonnie Mack eerste geplaas onder die kitaarspelers waarna hy geluister het, beide as jongeling en as volwassene.[18] Vaughan het opgemerk dat Mack "sy tyd voor was"[16] en gesê, "Ek het baie van my vinnige goed by Lonnie gekry".[19] Op 'n ander aangeleentheid het Vaughan gesê dat hy die kuns van tremolo-tokkel en vibrato aangeleer het by Mack, en dat Mack hom geleer het om "die kitaar uit my hart uit te speel."[20] Mack het sy eerste kennismaking met Vaughan in 1978, in herinnering geroep:
We was in Texas looking for pickers, and we went out to see the Thunderbirds. Jimmie was saying, 'Man, you gotta hear my little brother. He plays all your [songs].' He was playing a little place called the Rome Inn, and we went over there and checked him out. As it would be, when I walked in the door, he was playing 'Wham!' And I said, 'Dadgum.' He was playing it right. I'd been playing it wrong for a long time and needed to go back and listen to my original record. That was in '78, I believe.[21]
Vaughan se verhouding met 'n ander Texas blues-legende, Johnny Winter, was 'n bietjie meer kompleks. Alhoewel hulle verskeie kere ontmoet het en dikwels sessies met dieselfde musikante gespeel het of selfs dieselfde materiaal uitgevoer het, soos in die geval van "Boot Hill", het Vaughan hom altyd daarvan weerhou om Winter in enige vorm te erken. In sy biografie, Raisin' Cain, sê Winter dat hy ontsenu was nadat Vaughan in 'n onderhoud gesê het dat hy hom (Johnny Winter) nooit ontmoet of geken het nie. "Ons het selfs een keer saam by Tommy Shannon se huis gespeel." Vaughan het die kwessie in 1988 opgelos ter geleentheid van 'n bluesfees in Europa waar beide hy en Winter opgetree het, en verduidelik dat hy verkeerd aangehaal is en dat "Elke musikant in Texas vir Johnny ken en het iets by hom geleer het".[22] Toe Winter gevra is om hul onderskeie speelstyle tydens 'n onderhoud in 2010 te vergelyk, het Winter erken dat "myne 'n bietjie rouer is, dink ek."[23]
Nalatenskap
Vaughan het 'n herlewing in blues rock teweeggebring en die weg gebaan vir baie ander kunstenaars. Vaughan se werk beïnvloed steeds talle blues, rock en alternatiewe kunstenaars soos onder andere John Mayer,[24] Kenny Wayne Shepherd, [25] Mike McCready,[26] Albert Cummings,[27] Los Lonely Boys en Chris Duarte. AllMusic se Stephen Thomas Erlewine het Vaughan beskryf as "die liggewer in Amerikaanse blues" wat "'n unieke eklektiese en vurige styl ontwikkel het wat soos geen ander kitaarspeler geklink het nie, ongeag genre".[28] In 1983 het die tydskrif Variety Vaughan bestempel as die "kitaarheld van die huidige era".[29]
In die maande wat op sy dood gevolg het, is meer as 5,5 miljoen van Vaughan se albums in die Verenigde State verkoop.[30] Op 25 September 1990 het Epic die album Family Style vrygestel, 'n LP wat die Vaughan-broers opgeneem het by Ardent Studios in Memphis, Tennessee. Die etiket het verskeie promosie-enkelsnitte en video's vrygestel vir die samewerkingspoging.[31] In November 1990 het CMV Enterprises Pride and Joy vrygestel, 'n versameling van agt Double Trouble-musiekvideo's.[32] Sony het 'n ooreenkoms met die Vaughan-boedel aangegaan om beheer oor sy katalogus te verkry, sowel as toestemming om albums met voorheen onvrygestelde materiaal vry te stel en nuwe versamelings vrygestelde werk.[33] Op 29 Oktober 1991 is The Sky Is Crying vrygestel; Vaughan se eerste postume album saam met Double Trouble, wat ateljee-opnames uit 1984 tot 1985 bevat.[34] Ander samestellings, regstreekse opnames en rolprente is ook sedert sy dood vrygestel.
Op 3 Oktober 1991 het Texas se destydse goewerneur, Ann Richards, die "Stevie Ray Vaughan Herdenkingsdag" afgekondig, waartydens 'n gedenkkonsert by die Texas Teater gehou is.[34] In 1993 is 'n gedenkbeeld van Vaughan by Auditorium Shores onthul. Dit is die eerste openbare monument van 'n musikant in Austin.[35] In September 1994 is 'n "Stevie Ray Vaughan Memorial Run for Recovery" in Dallas gehou; die geleentheid is gehou ten bate van die Ethel Daniels-stigting, wat gestig is om diegene te help wat herstel van alkoholisme en dwelmverslawing, en nie behandeling kan bekostig nie.[36] In 1999 het die "Musicians' Assistance Program" (later herdoop tot "MusiCares MAP Fund") die Stevie Ray Vaughan-toekenning geskep om die nagedagtenis van Vaughan te vereer en ter erkenning van musikante vir hul toewyding om ander verslaafdes te help wat met die rehabilitasieproses sukkel.[37][38] Die ontvangers sluit onder andere Eric Clapton, David Crosby, Steven Tyler, Alice Cooper, Ozzy Osbourne, Pete Townshend, Chris Cornell, Jerry Cantrell en Mike McCready in. In 1993 het Martha Vaughan die Stevie Ray Vaughan-gedenkbeursfonds gestig, wat toegeken word aan leerlinge aan die W.E. Greiner Middle School in Oakcliff wat van voorneme is om universiteit by te woon en die kunste as 'n beroep te volg.[39]
Diskografie
Texas Flood (1983)
Couldn't Stand the Weather (1984)
Soul to Soul (1985)
In Step (1989)
Family Style (1990)
The Sky Is Crying (1991)
Voetnote
↑Vaughan se oupagrootjie, Robert Hodgen LaRue, rondom die 1900's Vaughan se voorgeslagte is teruggespoor na sy oupagrootjie, Robert Hodgen LaRue. Vaughan se grootmoeder aan vaderskant, Laura Belle LaRue, was 'n bywoner wat van Terrell, Texas na Rockwall County verhuis het nadat sy op 13 Julie 1902 met Thomas Lee Vaughan getroud is. Sy het geboorte geskenk aan nege kinders, van wie agt as suigelinge oorleef het. Op Sondae het Laura haar kinders om haar klavier in die sitkamer bymekaargemaak en himnes en gewilde liedjies gesing. In 1928 is Thomas oorlede aan Bright se siekte, en gevolglik moes Laura se gesin reg aan die begin van die Groot Depressie katoen pluk om aan die lewe te bly.[2]
Hopkins, Craig (15 September 2010). Stevie Ray Vaughan – Day by Day, Night After Night: His Early Years, 1954–1982. Backbeat Books. ISBN978-1-4234-8598-8.
Hopkins, Craig (18 Oktober 2011). Stevie Ray Vaughan – Day by Day, Night After Night: His Final Years, 1983–1990. Backbeat Books. ISBN978-1-61774-022-0.
McBride, James (Maart 1985). "You Can Take the Boy Out of Texas, but You Can't Take Texas Out of Blues' Golden Boy Stevie Ray Vaughan". People tydskrif.
Menn, Don, red. (1992). Secrets From The Masters. Miller-Freeman, Inc. ISBN0-87930-260-7.
Milkowski, Bill (September 1988). "A Focused Stevie Ray Vaughan Comes Clean". Guitar World.
"My Guitar Heroes". Request. 10 Julie 1989.
Nixon, Bruce (Junie 1983). "Playing the Blues for Bowie". Record. Vol. 2, no. 8. p. 21.
Nixon, Bruce (November 1985). "Stevie Ray Vaughan discusses fame, Hendrix and his new album, 'Soul To Soul'". Guitar World.