Tannhäuser
Tannhäuser (Duits: [ˈtanhɔʏzɐ] ; volle titel Tannhäuser und der Sängerkrieg auf Wartburg, "Tannhäuser en die Minnesangers-wedstryd by Wartburg") is 'n 1845-opera in drie bedrywe, met musiek en teks deur Richard Wagner. Dit is gebaseer op twee Duitse legendes: Tannhäuser, die gemitologiseerde Middeleeuse Duitse Minnesanger en digter, en die verhaal van die Wartburg-sangwedstryd. Die verhaal sentreer op die stryd tussen heilige en sinlike liefde, sowel as verlossing deur liefde, 'n tema wat deur die meeste van Wagner se werk loop.[1][2]
Die opera bly gesog in die 21ste eeu. Dit is tussen 1842 en 1845 geskep en het op 19 Oktober 1845 by die Königliches Hoftheater in Dresden begin vertoon.
Richard Wagner het Tannhäuser, soos baie van sy operas, gebaseer op Middeleeuse liedere, sages en romantiese vertellinge. Die libretto van die opera is deur Wagner self geskryf maar is geïnspireer deur verskeie sages uit Ludwig Bechstein se Duitse Sageboek: Die Mähr von dem Ritter Tannhäuser, Der Sängerkrieg auf der Wartburg en Die heilige Elisabeth. Baie legendes het ontstaan rondom die Wartburg, 'n kasteel in Eisenach. Die hoofkarakter is Heinrich von Ofterdingen, wat bekend geword het as Tannhäuser in die sage met dieselfde naam.[3][4]
Die hooftema is die rebellie van 'n kunstenaar, Tannhäuser, wie se behoefte om oor te gee aan sensuele plesier hom in konflik met sy godsdienstige sin bring. Hierdie innerlike konflik word vergestalt deur die twee vroue wat hy liefhet. Die sensuele liefde waarvan hy genoeg by Venus kry, mis hy by Elisabet. Wanneer hy tydens 'n sangtoernooi by die Wartburg, die Sängerkrieg auf der Wartburg, met die tema van liefde geïnspireer word om 'n onverbloemde loflied tot sensualiteit te skryf, wek hy die woede van die ander aanwesiges, waarteen net Elisabet hom kan beskerm. Op 'n pelgrimstog na Rome doen hy boete, maar hy sal eers ware verlossing vind wanneer, in sy angs, die naam van sy verlosser nog een keer aan hom genoem word.[5][6][7]
Tannhäuser was die gunstelingopera van die Beierse koning Ludwig II. In sy bewondering vir Wagner het hy selfs die oorspronklike Sangersaal in die Wartburg in sy sprokieskasteel Neuschwanstein laat herskep en 'n Venus-grot met 'n ondergrondse meer in die park van sy Linderhof-kasteel gebou.
Verwysings
- ↑ Tim Ashley (11 Desember 2010). "Wagner's Tannhäuser". The Guardian. Besoek op 16 Junie 2023.
- ↑ Barry Emslie (2010). Richard Wagner and the Centrality of Love. Boydell & Brewer Ltd. p. 10. ISBN 9781843835363.
- ↑ Spencer 2008, p. 70.
- ↑ Millington 1989.
- ↑ Wagner 1992, p. 212.
- ↑ Westernhagen 1981, p. 70.
- ↑ Millington 1992, p. 281.