Die Dodetempel van Hatsjepsoet (Egipties: Ḏsr-ḏsrw, "Allerheiligste") is 'n dodetempel wat in die tyd van farao Hatsjepsoet van die 18de Dinastie gebou is. Dit is oorkant die stad Luxor geleë en word beskou as 'n meesterstuk van antieke argitektuur.
Die tempel se drie enorme terrasse styg uit bo die woestynbodem tot in die kranse van Deir el-Bahari. Hatsjepsoet se grafkelder, KV20, is in die Vallei van die Konings. Oorkant die Nyl wys die hele struktuur na die monumentale agtste spanmas, Hatsjepsoet se herkenbaarste byvoeging tot die Tempel van Karnak. Die dodetempel se dubbele funksie word deur sy asse geïdentifiseer: Sy hoofas van wes na oos het ten doel gehad om die bark (boot) van Amoen-Re te ontvang tydens die hoogtepunt van die Mooi Fees van die Vallei, terwyl sy as van noord na suid die lewensiklus verteenwoordig van die farao van sy kroning tot sy hergeboorte.
Die tempel is gebou tussen Hatsjepsoet se sewende en 20ste bewindsjaar. Die ontwerp is in 'n groot mate beïnvloed deur die Dodetempel van Mentoehotep II van die 11de Dinastie, wat ses eeue tevore gebou is. Dit is egter heeltemal uniek wat sy kamers en heiligdomme betref. Die hoofas, wat gewoonlik vir die dodekompleks gebruik is, word beslaan deur die heiligdom van die bark van Amoen-Re, terwyl die dodekultus van noord na suid geplaas is en die sekondêre as vorm. Apart van die hoofheiligdom lê die heiligdomme vir Hathor en Anoebis op die middelste terras. Die suilegange aan die voorkant van die terras bevat die merkwaardigste reliëfs van die tempel: dié van die ekspedisie na die land Poent en die goddelike geboorte van Hatsjepsoet, die belangrikste deel van haar aanspraak om die troon te beset as lid van die koninklike familie en as 'n goddelike afstammeling.
Die toestand van die tempel het mettertyd agteruitgegaan. Twee dekades ná Hatsjepsoet se dood is verwysings na haar bewind onder leiding van Toetmoses III uitgewis of onregmatige oorgeneem. Die rede is onduidelik. 'n Persoonlike wrok lyk onwaarskynlik, want Toetmoses het eers 20 jaar gewag voor hy opgetree het. Dalk het 'n dispuut tussen die Ahmose- en die Toetmoses-lyn daartoe gelei. In die Amarnatydperk was die tempel weer in gevaar toe Achenaten gelas het dat alle beelde van Egiptiese gode, veral dié van Amoen, vernietig word. Dié skade is eindelik deur Toetankamen, Horemheb en Ramses II herstel. 'n Aardbewing in die Derde Oorgangstydperk het verdere skade aangerig. In die Ptolemeïese tydperk is die heiligdom van Amoen herbou en 'n nuwe suilegang voor die ingang daarvan opgerig. 'n Koptiese klooster is tussen die 6de en 8ste eeu n.C. daar gebou, en beelde van Christus is bo-oor die oorspronklike reliëfs geverf. Die laaste graffito in die tempel kom uit omstreeks 1223.
Die tempel het weer in die moderne annale verskyn toe Richard Pococke, 'n Britse reisiger, dit in 1737 besoek het. Ernstige uitgrawings is egter eers in die 1850's en 1960's onder leiding van Auguste Mariette gedoen. Die tempel is tussen 1893 en 1906 heeltemal uitgegrawe tydens 'n ekspedisie onder leiding van Édouard Naville. Nog werk is van 1911 tot 1936 gedoen deur Herbert E. Winlock en die Metropolitan-kunsmuseum (MMA), en van 1925 tot 1952 deur Émile Baraize en die Egiptiese Oudhedediens. Herstelwerk duur voort en dit is in Maart 2023 vir die publiek oopgestel.
- ...lees verder
|
Die Koninkryk Juda (Hebreeus: יְהוּדָה, Yəhūdā; Akkadies: 𒅀𒌑𒁕𒀀𒀀 Ya'údâ; Koninklike Aramees: 𐤁𐤉𐤕𐤃𐤅𐤃 Bēyt Dāwīḏ, "Huis van Dawid"), die Suidryk of die ryk van die Twee Stamme was in die Ystertydperk 'n Semitiessprekende, landingeslote koninkryk van die Suid-Levant. Dit was gesentreer in die hooglande van Judea en die hoofstad was Jerusalem. Jode is na Juda genoem en stam hoofsaaklik daarvan af.
Die Hebreeuse Bybel beeld die Koninkryk Juda uit as 'n opvolgerstaat van die Verenigde Koninkryk Israel, 'n term wat gebruik word vir die verenigde koninkryk onder die Bybelse konings Saul, Dawid en Salomo. Dit dek die gebied van Juda en Israel. In die 1980's het sommige Bybelse geleerdes egter begin aanvoer dat die argeologiese bewyse vir 'n uitgebreide koninkryk voor die laat 8ste eeu v.C. nie genoegsaam is nie en dat daar fout is met die metodologie wat gebruik is om die bewyse in te samel. Dit lyk of die gebied van Juda in die 10de en vroeë 9de eeu v.C. ylbevolk was en beperk was tot klein plattelandse nedersettings, waarvan die meeste nie met mure versterk was nie.
Die Tel Dan-stele, wat in 1993 ontdek is, wys die koninkryk het ten minste teen die 9de eeu v.C. in die een of ander vorm bestaan, maar dit vertel nie hoe groot sy mag was nie. Onlangse uitgrawings by Khirbet Qeiyafa ondersteun egter die bestaan van 'n sentraal georganiseerde, verstedelikte koninkryk teen die 10de eeu v.C., volgens die uitgrawers.
In die 7de eeu v.C. het die koninkryk se bevolking baie toegeneem en het dit vooruitgegaan onder die vasalskap van die Nieu-Assiriese Ryk, ten spyte van Hiskia se opstand teen die Assiriese koning Sanherib. Josia het van die politieke vakuum wat tussen Assirië se verval en die opkoms van Egiptiese heerskappy oor die gebied ontstaan het, gebruik gemaak om sy godsdienstige hervormings deur te voer. Deuteronomistiese geskiedenis, wat van die geskiedenis van die nasie vertel van Joshua tot Josia en 'n wêreldsiening uitdruk wat geskoei is op die wetlike beginsels in Deuteronomium, is vermoedelik in dié tyd geskryf en lê klem op die belangrikheid om die beginsels na te kom.
Met die finale val van die Nieu-Assiriese Ryk in 605 v.C. het mededinging ontstaan tussen Egipte en die Nieu-Babiloniese Ryk oor beheer van die Levant. Dit het eindelik gelei tot Juda se vinnige agteruitgang. In die vroeë 6de eeu v.C. was daar 'n vlaag onderdrukkings van Egipties gesteunde opstande deur Juda teen die Babiloniese heerskappy. In 587 v.C. het Nebukadnesar II Jerusalem beleër en verwoes, en 'n einde aan die koninkryk gebring. Baie Judese inwoners is na Babilon verban en die koninkryk is as 'n Babiloniese provinsie geannekseer.
Nadat die Achaemenidiese Ryk Babilon oorgeneem het, het koning Kores die Grote die Jode wat verban is, toegelaat om terug te keer. Hulle is toegelaat om hulleself onder Persiese heerskappy te regeer. Eers 400 jaar later, ná die Makkabese Opstand, het die Jode hulle onafhanklikheid ten volle herwin.
- ...lees verder
|