Reukwater

Reukwater of parfuum (Engels: /ˈpɜːr.fjuːm/ Amerikaans: /pərˈfjuːm/; Frans: parfum) se gebruike en gesogtheid het oor die eeue toegeneem.

Grasse hoofstad van reukwater

Grasse, die klein Suid-Franse dorpie in Provence, word gereken as die "hoofstad" van die reukwaterwêreld. Hier is uitgestrekte blommevelde, soos laventel, jasmyn en lemoen. Die blomme, en soms ook die blare, word gepluk en na fabrieke in Grasse geneem. Hier word essensiële olies, wat die blomme hul kenmerkende geur gee, daaruit onttrek.

Bekostigbaarheid

Waarom is 'n klein flessie goeie reukwater dan so duur?

Die antwoord op hierdie vraag is maklik: omdat die grondstowwe waarvan reukwater gemaak word, so duur is. Meer as honderd verskillende soorte grondstowwe word gebruik om reukwater te maak, en die flessie reukwater wat te koop is, kan maklik vyftig verskillende bestanddele bevat. Blomme, vrugte, mosse, bas, die kliere van diere en chemmikalieë is voorbeelde van grondstowwe wat gebruik word.

Parfuum deur Chanel in 'n winkel ten toon gestel

Geskiedenis

Die eerste reukwaters is waarskynlik gebruik in godsdienstige plegtighede. So bv. het die ou Egiptenare geurige olies aan hul gode geoffer. Die ou Romeine was ook in besonder lief vir reukwater, en by feesmale is dikwels swerms duiwe, waarvan die vlerke met reukwater deurweek was, losgelaat om oor die gaste te vlieg. 'n Bui reukwater het dan op hulle uitgesak.

Na die val van die Romeinse Ryk het die gebruik van reukwater in onbruik verval. Die Kruisvaarders van die Middeleeue het egter van die geurige vloeistof uit die Ooste na Europa teruggebring. Vanaf die laat Middeleeue is al hoe meer reukwater gebruik. so erg het dit op die ou end gegaan dat howelinge dikwels reukwater pleks van seep en water gebruik het om onaangename geure te verdryf. Die luisterryke hof van Lodewyk XIV van Frankryk was bekend as La Court Parfumé, hoewel dit volgens moderne standaarde ongelooflik onhigiënies was.

Sien ook

Bron