Roger Casement
Roger Casement | |
---|---|
Gebore | Ruairí Dáithí Mac Easmainn 1 September 1864 |
Sterf | 3 Augustus 1916 (op 51) |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Beroep | digter, rewolusionêr, nasionalis en diplomaat |
Sir Roger David Casement (Iers: Ruairí Dáithí Mac Easmainn; 1 September 1864 – 3 Augustus 1916) was 'n Ierse digter, rewolusionêr en nasionalis na ingesteldheid en 'n Britse diplomaat volgens professie. Hy is bekend vir sy aktiwiteite teen die misbruike van die koloniale sisteem in Afrika en Peru, maar ook bekend vir sy samewerking met Duitsland voor die Ierse Paasopstand in 1916.
Casement in Afrika
Casement het in 1883, op negentienjarige ouderdom vir die eerste keer na Afrika gegaan. Hy het vir verskeie maatskappye in die Kongo-Vrystaat gewerk insluitende Koning Leopold II van België se Association Internationale Africaine. Terwyl hy in die Kongo was het hy die bekende ontdekkingsreisiger Henry Morton Stanley gedurende dié se Emin Pasha Relief Expedition ontmoet en ook kennis gemaak met 'n jong Joseph Conrad (op daardie stadium nog nie 'n skrywer nie maar 'n skeepskaptein).
In 1892 het Roger Casement die Kongo verlaat en by die Britse Koloniale Kantoor in Nigerië aangesluit. In 1895 word hy die Konsul in Lourenço Marques (nou Maputo).
Teen 1900 was hy terug in die Kongo, in Matadi, en vestig die eerste Britse Konsulêre pos in daardie land. In sy verslae na Buitelandse Sake het hy die mishandeling van die plaaslike bevolking en die rampspoedige gevolge van die gedwonge werksisteem veroordeel. In 1903, nadat die Britse Laerhuis, weens druk van menseregte aktiviste, 'n resolusie oor die Kongo aanvaar het, is Casement opdrag gegee om ondersoek in te stel na die situasie in die Kongo. Die resultaat van die ondersoek was sy beroemde Kongo Verslag. Dié verslag wat in 1904 vrygestel is na 'n stryd teen die Britse Regering wat die verslag geheim wou hou het 'n groot skandaal veroorsaak. Kort voor die verslag uitgereik is, het Casement 'n joernalis Edmund Dene Morel ontmoet wat 'n anti-Kongolese veldtog deur lede van die Britse pers gelei het. Dit was die begin van 'n hegte vriendskap en samewerking oor die Kongo vraagstuk. Casement, kon nie openlik deelneem aan die veldtog nie as gevolg van sy diplomatieke status maar het Morel oortuig om die Kongo Hervormingsassosiasie (Congo Reform Association) te stig.
Die Putumayo
In 1906 is Casement na Santos, Brasilië gestuur. Hy het die geleentheid gehad om soortgelyke werk soos in die Kongo onder die Putumayo Indiane van Peru te doen. In 1911 word hy tot ridder geslaan vir dié werk.
Ierse revolusionêr
Hy bedank van die koloniale diens in 1912 en sluit die volgende jaar aan by die Ierse Vrywilligers. Hy word 'n vriend van die Vrywilligers se Stafhoof Eoin MacNeill. Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, het hy gepoog om Duitse hulp te verkry vir Ierse onafhanklikheid. Hy vertrek per skip na Duitsland via die VSA. Hy beskou homself as die selfaangestelde ambassadeur van die Ierse nasie. Terwyl die reis sy idee was slaag hy daarin om die uitgeweke Ierse nasionaliste in die Clan na Gael te oortuig om die ekspedisie te finansieer. Baie van die Clan na Gael het hom nooit ten volle vertrou nie, aangesien hy nie 'n lid was van die Irish Republican Brotherhood (IRB) nie, en standpunte gehuldig het wat deur baie as te gematig beskou is. Casement slaag daarin om 'n "Verdrag" op te stel met Duitsland wat hul steun vir 'n onafhanklike Ierland uitspreek. Hy spandeer baie van sy tyd in Duitsland in 'n vrugtelose poging om 'n Ierse Brigade in die krygsgevangene kamp by Limburg an der Lahn te werf. Die mag sou opgelei word om teen Brittanje te veg. Die poging het misluk na baie tyd en geld daarop vermors is. Die Duitsers wat skepties was ten opsigte van Casement, was nietemin bewus van die militêre voordeel wat 'n opstand in Ierland sou inhou, het aan die Iere 20 000 gewere, 10 masjiengewere en ammunisie toegestaan. Dit was net 'n klein deel van die wapens waarvoor Casement gevra het.
Casement was eers oor beplanning vir die Paasopstand ingelig nadat dit in 'n gevorderde stadium was. Die IRB het hom opsetlik in die duister gehou en het self pogings aangewend om hom te vervang. Casement het waarskynlik op hierdie stadium nog gedink dat dit die Vrywilligers was wat die opstand beplan het, maar in werklikheid het IRB lede soos Patrick Pearse en Tom Clarke die beplanning agter die skerms beheer.
Die wapens het nooit Ierland bereik nie. Die skip waarin dit vervoer was, 'n Duitse vragskip, die Libau, is onderskep, ten spyte daarvan dat dit deeglik vermom was as 'n Noorweegse skip, Aud Norge. Die bemanning was Duits, maar alle klere, persoonlike besittings, kaarte en boeke was alles Noors. Die Britte het egter Duitse kommunikasie onderskep en het die ware identiteit en presiese eindbestemming van die skip geïdentifiseer. Nadat die skip onderskep is, het die kaptein die skip gesink.
Arrestasie
Casement verlaat Duitsland aan boord van die Duitse duikboot die U-19, kort na die Aud vertrek het. Met die geloof dat die Duitsers nie reguit was met hom van die begin af nie en opsetlik onvoldoende hulp verleen het wat die opstand tot mislukking sou doem, besluit hy om Ierland te bereik voor die wapens. Hy wou MacNeill (wat hy glo steeds in beheer is) oortuig om die opstand te kanselleer. In die vroeë ure van 21 April 1916, twee dae voor die opstand geskeduleer was om te begin, was Casement by Banna strand in die graafskap Kerry aan wal gesit. Hy was siek en te swak om te reis. Hy word deur die owerhede ontdek en gearresteer. Na 'n hoogs gepubliseerde verhoor word hy skuldig bevind en gehang in die Pentonville tronk in Londen vir verraad, sabotasie en spioenasie teen die Kroon op 3 Augustus 1916, nadat sy appèl van die hand gewys is.
Die Swart Dagboeke
Voor sy teregstelling, is bladsye wat die Regering beweer het uit dagboeke van Casement gesirkuleer onder diegene wat sy doodstraf teengestaan het. Hierdie bladsye wat onder meer gestuur was aan Koning George V, die Aartsbiskop van Kantelberg en ander in Brittanje, Ierland en die VSA het gesuggereer dat Casement betrokke was by homoseksuele aktiwiteite wat 'n misdaad in meeste lande op daardie stadium was. Die gevolg van wat later bekend gestaan het as die Swart Dagboeke was dat van Casement se steun opgedroog het. Die dagboeke is steeds geklassifiseer en sal waarskynlik eers teen ongeveer 2020 vrygestel word.
Casement se seksualiteit
Meeste Iere was van mening dat die dagboeke vervals was aangesien die Britse Regering voorheen soortgelyke tegnieke gebruik het. Onlangse studies het die sogenaamde Wit Dagboeke (sy bekende dagboeke ook uit die tyd) vergelyk met die Swart Dagboeke deur middel van handskrifanalise. Die studie het net gefokus op die handskrif en het nie 'n volledige forensiese ondersoek behels nie. Die uitslag dat die handskrifte ooreenkom en die skrywer van die Swart Dagboeke dus Casement was, word dus nie deur almal aanvaar nie. Daar was al in die verlede gevalle waar bekwame vervalsers handskrifte kon namaak. Voorts word daar ook gesê dat die aktiewe seksuele lewe beskryf in die dagboek moontlik blote fantasie kon gewees het.
Staatsbegrafnis in Glasnevin begraafplaas
In die middel 1960's word Casement se oorskot gerepatrieer en na 'n staatsbegrafnis met volle militêre eerbewys begrawe in die Republikeinse Akker in Glasnevin begraafplaas in Dublin. Die President van die Republiek van Ierland, Eamon de Valera, wat in sy middel tagtigs was, was die laaste oorlewende leier van die Paasopstand het mediese raad verontagsaam om die begrafnis by te woon. Casement is 'n nasionale held in Ierland; byvoorbeeld in die sterk republikeinse wes Belfast heet die galliese voetbal gronde op die Fallsstraat "Roger Casement Park".
Twyfel of Casement se oorskot regtig in Glasnevin begrawe is
In die 1990's, is twyfel uitgespreek of die oorskot wat in Glasnevin begrawe is werklik Casement was. Daar word beweer dat toe die gevangenisse graf geopen was dit onmoontlik was om om die oorskot van verskillende gevangenisse te erken. Vir sommige mense bly die identiteit van die oorskot onbekend totdat DNS toetse gebruik is om bo alle twyfel te bewys dat dit Casement se oorskot is. DNS toetsing was nog nie beskikbaar in die 1960's nie.
Bibliografie
- B. Inglis, Roger Casement
- Adam Hochschild, King Leopold's Ghost