Le Corbusier
Le Corbusier | |
---|---|
Le Corbusier in 1964 | |
Gebore | 6 Oktober 1887 La Chaux-de-Fonds, Switserland |
Sterf | 27 Augustus 1965 (op 77) Roquebrune-Cap-Martin, Frankryk |
Nasionaliteit | Switserland Frankryk |
Beroep | argitek, ontwerper, skilder, stadsbeplanner, skrywer |
Bekend vir | Villa Savoye, Poissy Villa La Roche, Parys Unité d'habitation, Marseilles Notre Dame du Haut, Ronchamp Geboue in Chandigarh, Indië |
Handtekening | |
Charles-Édouard Jeanneret-Gris (6 Oktober 1887 – 27 Augustus 1965), wat gekies het om as Le Corbusier (Frans: [lə kɔʁbyzje]) bekend te staan, was 'n Switsersgebore argitek en skrywer wat beroemd is vir sy bydraes tot wat nou bekend staan as Moderne Argitektuur. Hy word as beide Switsers en Frans beskou nadat hy in die 1930's 'n Franse burger geword het.
Hy was 'n pionier in teoretiese studies van moderne ontwerp en het hom toegewy tot die verskaffing van beter lewensomstandighede vir die inwoners van digbevolkte stede. Sy loopbaan het oor vyf dekades gestrek met ikoniese ontwerpe wat oral in Europa, Indië, Rusland gebou is en met twee strukture elk in Nood- en Suid-Amerika. Hy was ook 'n stadsbeplanner, skilder, beeldhouer, skrywer en ontwerper van moderne meubels.
Lewensgeskiedenis
Le Corbusier is op 6 Oktober 1887 in La Chaux-de-Fond, Neuchâtel, Switserland gebore. Sy familie was horlosiemakers. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan 'n tegniese skool voltooi en het as jong man saam met argitekte soos Josef Hoffman, Auguste Perret en Peter Behrens gewerk. Tussen 1911 en 1921 het hy onder andere as binneshuisversierder in Switserland en fabrieksbestuurder in Parys gewerk terwyl hy terselfdertyd vryskutwerk as skilder en argitek gedoen het. In 1922 het hy 'n argitekskantoor saam met sy neef, Pierre Jeanneret, begin en begin praktiseer as Le Corbusier (die naam van sy ouma aan moederskant).
Van sy bekendste ontwerpe sluit in die "Citrohanhuis" (1923) in die vorm van 'n motor, wat gestalte gegee het aan sy visie dat 'n huis 'n "masjien vir lewe" moes wees; die kubistiese Villa Savoye (1931); die Onderwysministerie in Rio de Janeiro; die Unité d'Habitation (1947), 'n woonstelblok in Marseille wat 'n daktuin, winkels, sportfasiliteite en 'n kleuterskool as deel van die ontwerp ingesluit het; die Indiese stad Chandigarh in die Punjab; die Notre Dame du Haut kerk by Ronchamp (1950-1955), 'n besondere samevloeiing van argitektoniese en skulpturele elemente.
Le Corbusier is in 1965 in Frankryk oorlede.
Belangrikste prestasies
Le Corbusier was een van die twintigste eeu se mees invloedryke argitekte. Hy was die vader van bewegings soos die funksionalisme en die purisme en het 'n beslissende rigting gegee aan argitektoniese ontwikkeling in die twintigste eeu. Die funksionalistiese beweging is saamgesnoer in die CIAM (Internasionale Kongres van Moderne Argitektuur), 'n organisasie van argitekte wat deur le Corbusier en Siegfried Giedion gestig is. Die nuwe argitektuur het as die Moderne Beweging of Internasionale Styl bekend gestaan.
Le Corbusier se argitektoniese filosofie het berus op 'n oortuiging dat die boukuns in die verlede nie funksioneel was nie. Volgens hom moes die woning tot in die kleinste onderdele deurdag wees en diensbaar gemaak word aan die doel waarvoor dit bestem was; al die oorbodige elemente moes verdwyn. Die estetiese vorm moes nie die uitgangspunt wees nie, maar moes ook nie verwaarloos word nie; dit moes die logiese gevolg wees van die konstruktiewe moontlikhede en die toepassing van die nuwe materiale. Sy ontwerpstyl is gekenmerk deur konstruksie met pilare of kolommure wat vrye deurloop van die tuin onder deur die gebou moontlik gemaak het, groot horisontale vensters wat soms heeltemal as glasmure deurgeloop het in onbeperkte lengte, en daktuine. Hierdie vernuwings was moontlik omdat sy ontwerpe die mure bevry het van hulle tradisionele drakragfunksie.
Le Corbusier het gedurende die dertigs met verreikende stadsbeplanningsidees vorendag gekom. Sy argitektoniese oplossing vir verstedeliking en groeiende stratenette (urban sprawl) was toringgeboue, wat baie mense in meervuldige verdiepings kon huisves binne parkgebiede wat beskikbaar sou wees omdat die toringgeboue minder grond sou opneem.
Alhoewel daar intussen uitgevind is dat hierdie benadering juis bydra tot sosiale probleme, is dit destyds gesien as 'n oplossing vir verstedeliking en het stadsbeplanning vir dekades op beginsels berus wat deur Le Corbusier en sy tydgenote daargestel is.
In 2016 het Unesco wêrelderfenis-status aan sewentien van Le Corbusier se argitektoniese ontwerpe verleen wat in hul geheel as 'n buitengewone bydrae tot die ontwikkeling van modernistiese boukuns beskou word.[1]